Glo in wat jy doen

2022-12-14
Daniël 1:4 DB

Toe Daniël in Babel aangekom het, was hy ‘n slaaf. Hy het egter die boonste vlak as gevolg van die volgende kwalifikasies bereik: ‘Hulle moes sonder gebreke, sterk, aantreklik en slim wees. Hulle moes dinge vinnig kon snap en ingelig wees, en geskik vir werk in die koning se paleis.’ As jy in enige werk bevordering wil kry, moet jy jouself eers bewys. Die Bybel sê: ‘Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie’ (Spreuke 22:29 NLV). Tensy jy glo in wat jy doen, sal jy jouself nie ten volle daaraan oorgee nie; dus het jy dan geen reg om te verwag om sukses te behaal nie.

Het jy al ooit in ‘n vertrek ingestap en liefde, energie en opwinding gevoel? Jou gedagtes het ‘n teenwoordigheid; hulle is soos getye wat deur die lug beweeg, in staat om mense na jou toe aan te trek of weg te dryf. Jou houding word altyd aangevoel. Dis hoekom jy moet glo in wat jy doen om sukses te behaal. As jy nie doen nie – bid en vra dat God jou iewers anders plaas waaraan jy jou hele hart kan wy.

Jesus het geheel en al in sy produk geglo. Hy het vir die vrou by die put gesê: ‘…Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word…’ (Johannes 4:13-14 NLV). Jesus het tyd in gebed deurgebring om sodoende sy begrip van sy doel te vernuwe. Die woord vir jou vandag is dus – bid en glo in wat jy doen!

Sielskos: Jos 22-24; Joh 16:12-18; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4