Moet nooit diegene wat jou gehelp het, vergeet nie

2022-12-06
Filippense 1:3 NLV

Paulus het dikwels diegene wat hom gehelp het, erken. ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God… omdat julle, van die eerste dag wat julle die Goeie Nuus gehoor het, tot vandag toe saamgewerk het om dit verder uit te dra’ (verse 3-5 NLV). ‘Julle, Filippense… geen gemeente behalwe julle [het] my finansieel ondersteun nie. Selfs toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een keer iets gestuur om my te help’ (Filippense 4:15-16 NLV). Hy skryf aan die gelowiges in Tessalonika: ‘…dit is gepas dat ons altyd vir God dankie sal sê vir julle, want julle geloof hou net aan groei en julle almal se liefde vir mekaar word net groter! Gevolglik vertel ons self met trots in God se gemeentes hoe julle volhard en glo onder al die vervolging en swaarkry wat julle verduur’ (2 Tessalonisense 1:3-4 NLV).

Die skrywer Barbara Glanz vertel van ‘n man wat ‘n brief vir sy graad agt letterkunde-onderwyseres geskryf en die volgende antwoord ontvang het: ‘Jy sal nooit weet hoeveel jou brief vir my beteken het nie. Ek is 83 jaar oud en bly stoksielalleen. My vriende en familie het almal heengegaan. Ek het vir 50 jaar skoolgehou en jou brief is die eerste ‘dankie sê’ brief wat ek ooit ontvang het. Soms wonder ek wat ek met my lewe gedoen het. Ek sal jou brief oor en oor lees totdat die dag wat ek doodgaan.’ Ironies genoeg was sy die onderwyseres waaroor die studente die meeste by die skoolreünies gepraat het, maar niemand het haar ooit daarvan gesê nie.

Om waardering te wys kos so min in terme van tyd en geld, maar kan die wêreld vir iemand beteken. Teenoor wie moet jy vandag jou waardering bewys?

Sielskos: Jos 1-4; Joh 13:31-38; Ps 130; Spr 28:21-24