Kry die regte ingesteldheid (3)
2022-12-05Spreuke 23:7 AFR53
Elke familie het generasie-‘kwessies’ waarmee hulle sukkel. Dis dinge soos verslawing, misbruik, woede, wellus, vrees, ensovoorts wat ons ouers en grootouers aan ons oorgedra het. Dikwels sê ons: ‘Dit loop in my familie, daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.’ Ja, daar is! Jy mag dalk nie iets aan jou familie se verlede kan doen nie, maar deur God se genade kan jy die toekoms vir jouself en jou kinders verander.
Die Bybel sê: ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Let op die woorde: ‘één is met Christus,’. Jy kan nie self jou familie se disfunksie verander nie, maar in Christus kan jy die krag ontvang wat nodig is om in ‘n nuwe rigting te beweeg. ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NKV).
Jy vra: ‘Hoe vernuwe ek my denkpatrone?’ Deur dit met die Skrif te deurweek! Net soos jy sweet en vuilheid van jou liggaam verwyder deur dit in water te week, so reinig en korrigeer die Skrif jou denke wanneer jy jou gedagtes daarin week. Daar is ‘n gesegde wat lui: ‘Let op jou gedagtes, want dit word jou woorde. Let op jou woorde, want dit word jou dade. Let op jou dade, want dit word jou gewoontes. Hou jou gewoontes dop, want dit word jou karakter. Hou jou karakter dop, want dit word jou lot.’
God het vir Gideon gesê: ‘…Breek jou pa se altaar vir Baäl af…’ (Rigters 6:25 NLV). In die plek daarvan het Gideon ‘n nuwe altaar vir die Here gebou en sy lewe en die van sy familie vir ewig verander. Deur jou gedagtes met God se Woord te programmeer, kan jy dieselfde doen!
Sielskos: 3 Joh; Judas; Joh 13:18-30;
Ps 65; Spr 28:17-20