Kry die regte ingesteldheid (1)

2022-12-03
Kolossense 3:2 NLV

Wat is tans jou grootste uitdaging? Om ‘n slegte gewoonte te verbreek, of ‘n nuwe een in plek te stel? Om ‘n nuwe besigheid te begin, of ‘n ou een weer reg te ruk? Om van ‘n slegte huwelik te herstel, of ‘n goeie een beter te maak? Om uit ‘n depressiewe gat te kom, of om te keer dat jy in een verval? Paulus gee ons twee kragtige sleutels: 1) Stel jou gedagtes in die regte rigting. 2) Hou jou gedagtes gestel in die regte rigting. Om jou gedagtes in die regte rigting te stel is die maklike deel, om dit in die regte rigting te hou verg daaglikse toewyding.

Enigiemand kan ‘n begin maak, maar min steek die wenstreep oor. ‘ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon! Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie’ (Hebreërs 12:2-3 NLV).

Raak jy as gevolg van jou gedagtes en emosies moeg en moedeloos? Wat is die dryfveer in jou lewe? Jou gevoelens? Jou impulse? Jou buie? Hier is twee lewensveranderende Skrifgedeeltes: ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ (2 Korintiërs 10:5 NLV). ‘Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is… Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees’ (Filippense 4:8-9 NLV).

Sielskos: 2 Kron 35-36; 2 Joh; Joh 13:1-17; Ps 14; Spr 28:13-16