Leer om af te skakel en te ontspan

2022-11-12
Markus 6:31 NLV

Is dit nie interessant dat vir die mees hoë-tegnologie generasie in die geskiedenis ook die meeste medisyne voorgeskryf word nie? Die Bybel het dit voorspel. God het vir Daniël gesê dat in die laaste dae ‘Baie hiernatoe en daarnatoe [sal] gaan om meer te wete te kom’ (Daniël 12:4 NLV). Dis ons! Een navorser sê dat ons ons brein opgelei het om: ‘gedurig deur die heelal van boodskappe en inligting te sweef op soek na kort trefslae van opgewondenheid. Ons grawe nooit te diep voordat ons aanbeweeg na die volgende afleiding nie en dit verhoog ons stresvlakke op maniere wat ons nou eers effens begin verstaan.’

Wanneer was die laaste keer wat jy ononderbroke tyd bestee het om te ontspan, sonder om skuldig of onproduktief te voel? Jy moet die volgende doen om nie uit te brand nie:

1) Herken die tekens. As jy heeldag lank vir mense boodskappe stuur en steeds eensaam voel, mag tegnologie jou lewe domineer.
2) Doen iets daaraan. Maak jouself vir kort tydperke onbeskikbaar en kyk wat gebeur. Die wêreld sal nie tot ‘n einde kom nie, belowe!
3) Besef dat jy ‘n keuse het. Mense wat dink dat hulle vier-en-twintig uur ‘n dag beskikbaar moet wees, oordryf hulle eie belangrikheid.
4) Stel grense vas. Hou die e-posse en teksboodskappe in toom. Het jy regtig al daardie inligting oor dieselfde ding nodig?
5) Sê vir mense, tensy dit werklik dringend is, beantwoord jy e-posse slegs op aangewese tye deur die dag.
6) Stel ‘n skedule op en bly daarby. Na ‘n paar minute se rondsnuffel op die web, vra jouself af: ‘Is dit wat ek nou veronderstel is om te doen?’

Jesus het gesê: ‘…Kom julle nou self eenkant toe na ‘n stil plek en skep ‘n bietjie asem.’ Hoekom? Want as jy dit nie doen nie, val jy uitmekaar uit!

Sielskos: 1 Kron 3-5; Joh 8:31-41; Ps 99; Spr 25:26-28