Wat sal jy met Jesus doen?
2022-11-02Matteus 27:22 NLV
Wanneer dit by Jesus kom, het ons drie keuses. Kom ons kyk daarna: 1) Verwerp Hom. Dis wat die Fariseërs gedoen het. “‘Maar as ek Barabbas vir julle vrylaat,’ het Pilatus gevra, ‘wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?’ Hulle roep almal: ‘Hy moet gekruisig word!'” (vers 22 NLV). Hoekom? Omdat sy genade en krag hulle gebrek daaraan geopenbaar het. Sy waarheid het hulle foute blootgestel. Wanneer jy nie van die boodskap hou nie, verwerp jy die boodskapper.
2) Vermy Hom. Dis wat Pilatus se vrou gedoen het. “Terwyl Pilatus daar op die regbank sit, laat sy vrou hom weet: ‘Los daardie onskuldige man uit. Ek het laas nag ‘n aaklige nagmerrie oor hom gehad'” (Matteus 27:19 NLV). Hoekom vermy mense Jesus? Omdat Hy ‘n reaksie in hulle harte veroorsaak. Hy roep jou om die keuse te maak om vir jouself of vir Hom te lewe. Die leierpriesters het gesê: ‘…Hy hits deur sy onderrig die volk aan…’ (Lukas 23:5 NLV). Hulle was reg! Voor Jesus jou verlos, sal Hy jou versteur. Sommige van ons wil nie gesteur word nie.
3) Aanvaar Hom. Dis wat Paulus gedoen het: ‘Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf’ (Galasiërs 2:20 NLV). Pilates het probeer om te vermy om ‘n besluit oor Jesus te maak. Dit kan egter nie gedoen word nie. Jesus het gesê: ‘Wie nie aan my kant is nie, is teen My…’ (Matteus 12:30 NLV). As jy dus nog nie Christus as jou Verlosser aanvaar het nie, moet jy hierdie vraag antwoord: ‘…wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?..’
Sielskos: 1 Tim 4-6; Joh 6:60-71; Ps 104:1-23; Spr 24:26-27