Moenie bekommerd wees nie, God sal vir jou sorg

2022-08-16
Psalm 37:25 NLV

As jy vandag bekommerd is dat jy nie vir alles sal kan sorg nie, lees die volgende: ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede. Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die Here hou sy hand vas. Ek was jonk, en nou is ek oud. Maar ‘n regverdige mens wat verlate is, het ek nooit gesien nie, of dat sy kinders vir kos moes bedel nie’ (verse 23-25 NLV).

Jy mag dalk vandag by die afgrond staan, maar God sal jou nie laat val nie. ‘Julle sal weer al die kos kry wat julle begeer. Julle sal die Here julle God loof wat hierdie wonders vir julle moontlik maak…’ (Joël 2:26 NLV). Hou op om alles te probeer uitpluis en begin op God steun. ‘Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veilige weiding. Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg;’ (Psalm 37:3-5 NLV).

God mag dalk nie vir jou alles gee wat jy wil hê nie, maar Hy sal vir jou alles gee wat jy nodig het: ‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:31-33 NLV). ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg…’ (Psalm 55:23 NLV). Moenie bekommerd wees nie, God sal vir jou sorg!

Sielskos: 1 Pet 1-2; Mark 5:21-30; Ps 119:57-64; Spr 17:22