Gedagtes oor die Bybel (1)
2022-08-081 Tessalonisense 2:13 NLV
‘Julle het dit aanvaar, nie as mensewoorde nie, maar soos dit werklik is, as Gód se woord. Dié woord is aan die werk in julle wat glo’ (vers 13 NLV).
Hier is vier dinge wat jy oor jou Bybel moet glo: 1) Dit is lewensveranderend. Jesus het in die vergelyking van die saaier gesê: ‘…Die saad is God se boodskap’ (Lukas 8:11 NLV). Jy mag dalk nie die krag wat binne ‘n saad is verstaan nie, maar jy weet dat wanneer jy dit in ontvanklike grond saai, sal dit begin groei; dit sal vrugte produseer.
2) Dit werk. ‘Net so is dit met die woord wat uit my mond kom: Dit sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag het en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:11 NLV). Elke woord wat God spreek is op ‘n missie en is gewaarborg om dit in ooreenstemming met sy wil, sy strategie en sy tydsberekening, te bereik.
3) Dit is kreatief. ‘…God [het] lank terug die hemel en die aarde uit water gemaak… Hy het dit gedoen deur net ‘n woord te sê’ (2 Petrus 3:5 DB). God se Woord was magtig genoeg om alles wat bestaan, te skep. Hy het nie geswoeg of gesweet nie; Hy het eenvoudig gepraat en dit is gedoen. Praat dus God se Woord!
4) Dit is gesaghebbend. “Die mense daar was ook verbaas oor die dinge wat Hy gesê het, want Hy het met gesag gepraat… [Hulle] het verbaas uitgeroep: ‘Watter gesag en mag het hierdie man se woorde nie! Selfs bose geeste gehoorsaam hom en vlug op sy bevel!'” (Lukas 4:32, 36 NLV). Die donker magte rondom jou moet vandag God se Woord erken en hulself daaraan onderwerp, staan dus daarop!
Sielskos: Deut 14-17; Mark 3:7-19; Ps 119:1-8; Spr 17:3