Jy moet liefde betoon (3)
2022-08-03Johannes 15:12 NLV
Roep in jou gedagtes die persoon op wat jy dit die moeilikste vind om voor lief te wees. Hoe kan jy leer om hierdie tipe persoon lief te hê? Eerstens, voordat jy hulle kan liefhê, moet jy voel en verstaan hoe innig God jou liefhet. Paulus skryf: ‘Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef…’ (Efesiërs 3:17-19 NLV).
God wil hê dat jy sy liefde moet voel en moet verstaan. Ons het God lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het (sien 1 Johannes 4:19). Hoekom is dit belangrik om God se liefde te voel? Omdat ongeliefde mense dikwels liefdelose mense is. Wanneer jy nie opreg geliefd voel nie, is jy nie lus om liefde te betoon nie. Jy moet dus eerstens God se liefde vir jouself ervaar.
Jesus het gesê: ‘…Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het.’ Jesus was tydens jou ergste dade en jou laagste oomblikke lief vir jou. Die wete dat Christus jou liefhet, gee vir jou waarde en sekuriteit; dit stel jou ook in staat om die risiko te neem om ander mense lief te hê. Al wat God van jou vra is dat jy gewillig moet wees om liefde te betoon en Hy sal vir jou die krag gee om dit te doen. ‘…Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het’ (Romeine 5:5 NLV).
Sielskos: Deut 3-4; Mark 1:35-45; Ps 78:32-39; Spr 16:31