Jy moet liefde betoon (2)

2022-08-02
Efesiërs 5:2 NLV

Die Grieke het vier verskillende woorde gebruik om tussen verskillende tipes liefde te onderskei: 1) Storge, wat natuurlike toegeneentheid beteken; 2) Eros, wat seksuele aantrekkingskrag beteken; 3) Philia, wat emosionele toegeneentheid of vriendskap beteken; 4) Agape, wat onvoorwaardelike, opofferende liefde beteken.

Wanneer die Bybel ons van God se liefde en die tipe liefde wat ons vir Hom en mekaar behoort te hê, vertel, is die woord altyd ‘agape’, wat ‘n verbintenis om op te tree, aandui. Weet jy dat dit moontlik is om iemand waarvan jy nie eens hou nie, lief te hê? As God ons wil leer om lief te hê, sal Hy inderdaad sekere mense in ons lewens inbring wat moeilik is om lief te hê. Die waarheid is dat ons lewens vol mense is van wie ons nie hou nie. Ons hou nie van die manier waarop sekere mense praat nie. Ons hou nie van die manier waarop sommige mense optree nie. Ons hou nie van die klere wat ander mense aantrek nie. Maar bowenal, is ons geneig om nie van mense te hou wat nie van ons hou nie.

As jy vir ‘n oomblik daaroor dink, kan jy heel waarskynlik ‘n lang lys mense opnoem van wie jy nie hou nie. Hulle sal heel waarskynlik mense wees met wie jy sukkel om oor die weg te kom. Jesus het nooit van ons verwag om ‘n tere toegeneentheid vir almal te hê nie. Hy het nie enige warmte teenoor die Fariseërs gevoel nie. Ons hoef nie van almal te hou nie, maar ons moet vir hulle lief wees. Wat bedoel die Bybel wanneer ons lees: ‘…leef ‘n lewe van liefde…’? Dat ons hierdie onvoorwaardelike liefde: a) elke dag moet uitleef, b) dat dit in ‘n sekere rigting beweeg en c) dat dit inspanning verg.

Sielskos: Deut 1-2; Mark 1:21-34; Ps 78:17-31; Spr 16:26-30