Jy moet liefde betoon (1)
2022-08-01Johannes 13:34 NLV
Liefde is sekerlik een van die woorde in die wêreld wat die meeste verkeerd verstaan word. Ons water die betekenis daarvan af deur dit oor te benut: ‘Ek is lief vir my vrou, ek is lief vir my land, ek is lief vir pizza.’ Om liefde te gee en te ontvang, is moeilik wanneer ons nie eers begryp wat dit beteken nie. Ons moet dus ‘n paar wanopvattings daaroor uitklaar.
Ons dink liefde is ‘n gevoel – ‘n sentimentele klomp skoenlappers in jou maag. Ware liefde veroorsaak wel gevoelens, maar dis meer as net ‘n gevoel. ‘n Tweede wanopvatting is dat liefde onbeheerbaar is. Het jy al ooit gesê: ‘Ek het halsoorkop verlief geraak’ – asof jy gestruikel het? Ons sê: ‘Ek kan nie help dat ek verlief is nie,’ of die teenoorgestelde: ‘Ek kan dit nie help nie; ek is net eenvoudig nie meer vir hom (of haar) lief nie.’ Die feit dat Jesus ons opdrag gee om mekaar lief te hê, beteken dat ons wel beheer het oor wie ons liefhet en wie ons nie liefhet nie.
Die kern van liefde kom op twee dinge neer. Eerstens, liefde is ‘n keuse. ‘Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde. Die liefde bind alles volmaak saam’ (Kolossense 3:14 NLV). Soos jy elke dag die klere wat jy dra kies, kies jy die houding wat jy gaan vertoon. Liefde is dus beheerbaar. Tweedens, liefde word geken deur jou optrede. ‘…laat ons nie liefhê met woorde of ‘n gepratery nie, maar eerder deur ons optrede, en met opregte bedoelings’ (1 Johannes 3:18 NLV). Dit werk as volg: Wanneer jy na iemand met opregte liefde en besorgdheid uitreik, verander jou gevoelens teenoor daardie persoon. Selfs al bewys hulle nie liefde terug aan jou nie, is God tevrede met jou. Dis genoeg beloning.
Sielskos: Hand 27-28; Mark 1:9-20; Ps 78:9-16; Spr 16:25