Hou aan om jou geloof uit te oefen (1)
2022-07-04Matteus 17:20 ABA
Paulus skryf: ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur…’ Jesus het gesê: ‘…As julle ‘n bietjie geloof het, so klein soos ‘n mosterd-saadjie, dan sal julle vir hierdie berg kan sê: ‘Gaan weg, gaan na ‘n ander plek,’ en die berg sal gaan…’ (Matteus 17:20 ABA).
Ons almal het berge in ons lewens en God is gewillig om hulle te beweeg. Wat is egter dan die probleem? Twyfel! Ander mense se opinies! Die onvermoë om God se Woord te verstaan! Selfs al het Jesus sy dissipels die mag gegee om siekes gesond te maak, het hulle hulpeloos voor ‘n seuntjie gestaan wat van ‘n bose gees besete was. “Agterna het die dissipels vir Jesus gevra: ‘Waarom kon ons nie die duiwel uitdryf nie?'” (Matteus 17:19 NLV).
Let op wat Jesus vir hulle gesê het: 1) Wees gewillig om klein te begin. ‘n Klein mosterdsaadjie kan in iets baie groters verander. Begin dus waar jy is en glo God vir eenvoudige, alledaagse dinge, en wanneer Hy jou geloof beantwoord, bedank Hom en bou daarop voort.
2) Let op wat jy sê. ‘As julle ‘n bietjie geloof het… dan sal julle vir hierdie berg kan sê: ‘Gaan weg, gaan na ‘n ander plek,’ en die berg sal gaan…’ Jou woorde stel die lewensgewende krag van God se Woord vry. Bring dus dit wat uit jou mond kom in lyn met dit wat in die Skrif geskryf staan.
3) Wees gewillig om te doen wat dit verg. Sommige berge het ‘n bietjie ekstra gebede nodig, of soos in die geval van die seun wat deur die bose gees besete was, die krag wat verkry word wanneer mens vas. Die punt is: Wanneer jy doen wat God se Woord sê, sal jy sien hoe die berge in jou lewe beweeg.
Sielskos: Jer 18-21; Matt 23:13-22; Ps 98; Spr 14:34