Wanneer jy misluk, bid Jesus vir jou
2022-06-26Lukas 22:32 NLV
“‘Simon, Simon!’ het Jesus gesê. ‘Let op, die Satan het ernstig geëis om julle soos koring te kan sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie moet begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou medegelowiges gaan ondersteun'” (verse 31-32 NLV).
Is jy betrokke by dinge wat jy nooit gedink het jy in staat sou wees om te doen nie? Jy het nooit gedink dat jy ‘n buite-egtelike verhouding sou hê nie. Jy het nooit gedink dat jy sou steel, kul en lieg om vooruit te kom nie. Jy het nooit gedink dat jy jou familie sou afskeep of sleg behandel nie. Jy het nooit gedink dat jy aan pornografie, dwelms en alkohol verslaaf sou raak nie. Jy is nie alleen nie!
Petrus het gesweer dat hy Jesus nooit sou ontken nie, maar hy het. Nie net een keer nie, maar herhaaldelik. Was Petrus lief vir die Here? Absoluut. Omdat hy egter swak was, het hy sy rug op Hom gedraai. Wat ‘n verskriklike skuldgevoel om te dra. Geen wonder hy het ‘…buitetoe gegaan en onbedaarlik gehuil’ (vers 62 NLV), nie. Jesus het egter vooraf geweet dat dit sou gebeur en vir Petrus gesê dat Hy vir hom sal bid.
Wanneer jy sondig, bid Jesus vir jou! ‘Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos. Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!’ (Hebreërs 7:25 NLV). Stel jou voor: Jy sukkel met ‘n sondige gewoonte, terwyl Jesus terselfdertyd sy reinigende bloed aan die Vader voorhou en Hom namens jou om hulp en genade smeek. Sal Jesus se gebede namens jou verhoor word? Natuurlik. Hy sal, maak nie saak hoe lank dit neem nie, met jou werk totdat jy volkome herstel is.
Sielskos: Eks 34:29-35; Mark 9:2-27; 2 Kor 3:7-18