Trek vir sukses aan

2022-05-23
Romeine 13:14 NLV

Aangesien eerste indrukke saak maak, word ons aangemoedig om stylvolle klere aan te trek om sodoende sukses te behaal. Dis ‘n goeie ding. As verloste kind van God moet jou eerste belang egter nie wees oor hoe jy vir ander mense lyk nie, maar vir God. Net soos ‘n spieël jou fisiese voorkoms reflekteer, so openbaar die Bybel jou geestelike toestand. Jakobus skryf: ‘…As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen. Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het. As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ‘n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen’ (Jakobus 1:23-25 NLV).

Jy moet elke dag tyd met die Skrif bestee; anders sal jou geestelike klere verslete word. Paulus skryf: ‘Nee, soos ‘n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus ‘aantrek’, en nie ‘n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie’ (Romeine 13:14 NLV).

Soos Chuck Swindoll opmerk: ‘Die grootste vyand van verandering is die selfvoldane sondige natuur binne jou. Soos ‘n bedorwe kind, het jy dit jare lank bevredig en daaraan toegegee, dus sal dit nie sonder ‘n woede-aanval tou opgooi nie. Die vlees sterf ‘n stadige, bittere, bloederige dood – skoppend en stoeiend al die pad af ondertoe.’

Blywende verandering vind nie maklik plaas nie. Verwag dus af en toe terugslae en moenie dat dit jou van stryk bring nie. Wanneer jy voel dat jy wil tou opgooi, gaan op jou knieë en vra God om jou weer op koers te bring. Hy sal dit doen.

Sielskos: Heb 1-4; Matt 11:20-30; Ps 88:9b-18; Spr 11:27-29