Hoe God ons verander (1)
2022-05-162 Timoteus 3:16 NLV
Een van die maniere hoe God ons verander, is deur sy Woord. ‘Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe. Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl. Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen’ (verse 16-17 NLV).
Daar is ‘n verhaal van ‘n bekeerde kannibaal in die Suidsee eilande. Hy het by ‘n groot pot gesit en sy Bybel lees toe ‘n antropoloog hom nader en vra: ‘Wat doen jy?’ Die boorling het geantwoord: ‘Ek lees die Bybel.’ Die antropoloog het gespot en gesê: ‘Weet jy nie dat moderne, beskaafde mense daardie boek verwerp het nie? Dis niks anders as ‘n klomp leuens nie. Jy moenie jou tyd mors om dit te lees nie.’ Die kannibaal het hom op en af gekyk en stadig gesê: ‘Meneer, as dit nie vir hierdie boek was nie – was jy nou in daardie pot!’ Die Woord van God het sy lewe – en sy aptyt – verander.
As jy ernstig daaroor is om jou lewe te verander, moet jy gereeld jou Bybel lees, bestudeer en memoriseer. As jy dit nie doen nie, hoe kan jy verwag om in geloof te groei? Die Bybel sê: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus’ (Romeine 10:17 NLV). Die Gees van God gebruik die Woord van God om ons meer soos die Seun van God te maak.
Sielskos: Num 27-29; Matt 9:27-38; Ps 62; Spr 11:15