Doen dit vandag!
2022-05-14Eksodus 8:10 NLV
Elke plaag wat God op Egipte losgelaat het, het die spot met een van hulle gode gedryf. Byvoorbeeld, die Egiptenare het muggies verafgod, dus het God vir hulle ‘n magdom muggies – en paddas – gestuur. Uiteindelik het die farao vir Moses geroep en gesê: ‘Goed, ek gee op.’ Toe Moses hom egter vra: ‘Wanneer moet ek van die paddas ontslae raak?’ het farao geantwoord: ‘Doen dit môre.’ Hy moes seker mal gewees het? Hoekom sal jy nie dadelik van die paddas ontslae wil raak nie?
Ons doen egter dieselfde, nie waar nie? Ons stel die veranderinge uit wat ons weet vir ons goed sal wees. Miskien is ons te traag om om te gee. Miskien vrees ons die veranderinge omdat ons nie weet wat dit sal behels nie. Miskien is ons net te trots en hardkoppig. Wat die rede ook al is – ons stel uit.
NASA ruimte-ingenieurs sê vir ons dat die meeste brandstof wat deur ‘n vuurpyl verbruik word, in die eerste paar sekondes verbrand word. Dit verg ‘n enorme hoeveelheid energie en krag om die vuurpyl van die lanseerplatform af te beweeg. Wanneer dit eers aan die beweeg en op pad is, benodig dit baie minder brandstof en is dit makliker om te beheer en te stuur.
Dis een ding om te weet dat God jou probleem kan oplos en jou lewe kan verander. Dis ‘n ander saak om jou bewegingloosheid te oorkom en Hom toe te laat om dit nou te doen! Jesus Christus het die mag om vandag veranderinge in jou lewe te maak. Hy sal vir jou die krag gee om te begin en die krag gee om aan te hou. Dis nie te laat nie. Hy kan jou lewe weer herstel. Die woord vir jou is dus – doen dit vandag!
Sielskos: Num 25-26; Matt 9:14-26; Ps 57; Spr 11:14