Mik vir die doel

2022-05-10
Filippense 3:14 AFR53

Paulus skryf: ‘…ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar’ (verse 14-15 AFR53).

Paulus beskryf die Christen as ‘n skerpskutter. In Paulus se tyd sou die doel of teiken deur ‘n pyl getref word, maar in ons tyd kan die doel ook by ‘n skietbaan getref word. As jy al ooit op ‘n teiken geskiet het, weet jy die volgende:

1) Jy moet afleidings ignoreer. Wanneer jy die teiken in die oog het, kan iets so onbeduidend soos om op die verkeerde plek asem te haal, veroorsaak dat jy dit mis. Wat sê Paulus dus? Eenvoudig die volgende: ‘Vergeet wat agter jou en rondom jou is en bly daarop gefokus om die prys te verkry.’ Hy verwys nie hier na jou verlossing nie. Jesus het dit alreeds gekoop en vrylik deur genade aan jou gegee. Nee, hy verwys hier na die vervulling van jou Godgegewe doelwit en die beloning wat daarna op jou wag.

2) Jou koeël moet die regte hoeveelheid buskruit bevat. Anders sal dit nie die teiken haal nie. Kry jy die idee? Jou buskruit is jou krag! Waar kom jou krag vandaan? Van die Heilige Gees! Jesus het gesê: ‘Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, [en by die werk en in jou verhoudings], en tot die uithoeke van die aarde’ (Handelinge 1:8 NLV). Die woord vir jou vandag is dus – mik vir die doel.

Sielskos: Num 14-15; Matt 7:15-29; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8