Leun op jou eie kierie

2022-05-09
Hebreërs 11:21 NLV

Die Bybel sê: ‘Omdat hy geglo het, het Jakob op sy sterfbed… biddend voor God gebuig terwyl hy op sy kierie geleun het.’ Verbeel jouself: Elke keer wat Jakob ‘n ervaring met God gehad het, het hy ‘n mes geneem en ‘n ring op sy kierie uitgekerf as ‘n herinnering daaraan. Hy sou sekerlik die nag waar hy met God gestoei het en waar sy naam tot ‘…Israel, want jy het met God en mens geworstel en volhard’ (Genesis 32:28 NLV), verander is, wou simboliseer. Nog ‘n ring sou die nag wat God vir hom ‘n leer met engele wat tot by die hemel gestrek het, gewys het, verteenwoordig. Met ander woorde, Jakob se kierie het ‘n leeftyd van ervarings met God verteenwoordig. Dis dus nie verrassend dat hy biddend voor God, terwyl hy op sy kierie geleun het, gesterf het nie!

Oorweeg nou die verhaal van die vrou uit Sunem in 2 Konings 4. Haar seuntjie het siek geword en gesterf, dus het Elisa sy dienaar Gehasi met sy kierie vooruit gestuur. Toe Gehasi egter die profeet se kierie op die kind se gesig sit, het niks gebeur nie. Eers toe Elisa self daar aangekom het, het die seuntjie weer lewendig geword (sien 2 Konings 4:32-35). Jy kan nie op iemand anders se kierie leun nie! Wanneer dit tyd is om die lewe se uitdagings – insluitend die dood – in die gesig te staar, kan jy net op die geloof wat jy gedurende jou persoonlike wandel met God ontwikkel het, leun.

Dis hoekom dit noodsaaklik is om getrou en konsekwent in jou geestelike reis te wees. Deur op sy sterfbed op sy kierie te leun, het Jakob in wese verklaar: ‘Die God wat my tot dusver bewaar, beskerm en voorspoedig gemaak het, sal my die res van die pad neem.’ Wat ‘n geseënde versekering!

Sielskos: Num 11-13; Matt 7:1-14; Ps 37:25-31; Spr 11:5-6