Wees passievol daaroor! (1)

2022-05-06
1 Timoteus 4:15 NLV

“…Toe kondig Elisa aan:… ‘Vat nou die ander pyle en slaan teen die grond.’ Die koning het hulle opgetel, drie keer geslaan en toe opgehou. Maar die man van God het baie kwaad geword vir hom: ‘Jy moes vyf of ses keer geslaan het!’ roep hy uit. ‘Dan sou jy Aram verslaan en heeltemal verwoes het. Nou sal jy net drie keer oor Aram seëvier'” (2 Konings 13:18-19 NLV). Elisa het vir Joas, die koning van Israel, ‘n plan van God gegee om nie net sy vyand te oorwin nie, maar om hom permanent as ‘n toekomstige bedreiging te elimineer.

Die plan het egter van twee belangrike dinge afgehang. Eerstens, gehoorsaamheid. Tweedens, passievolheid. Joas het die eerste toets geslaag, maar die tweede een gedruip. Hy was gehoorsaam aan wat Elisa vir hom gesê het om te doen, maar hy het nie sy hart en siel daarin gewerp nie. Hy was met minder as wat God vir hom beplan het, tevrede. Miskien was hy moeg of sy aandag was afgelei. Miskien het hy nie mooi na die profeet se instruksies geluister nie. Miskien het hy gedink dat halfhartige gehoorsaamheid net so effektief soos volkome gehoorsaamheid sou wees.

Die Bybel sê nie vir ons wat deur sy gedagtes gegaan het nie. Ons weet wel dat hy God se beste prysgegee het, omdat hy nie passievol genoeg was nie. Dis nie genoeg om te sê: ‘Ek het die Here gehoorsaam,’ nie. Jy moet Hom met jou hele hart gehoorsaam; andersins kan jy jou toekoms in gevaar stel en nie die volheid wat Hy vir jou in gedagte het, ervaar nie. Paulus som dit met hierdie woorde aan Timoteus op: ‘Gee jou volle aandag aan hierdie sake…’ Met ander woorde, wanneer God vir jou sê om iets te doen, wees passievol daaroor.

Sielskos: Num 7; Matt 6:1-18; Ps 37:8-15; Spr 11:3