Van wie is jy afhanklik?
2022-05-02Filippense 4:19 NLV
Hoe weet jy wanneer jy meer van mense as van God afhanklik is? Wanneer jy vir jou baas kwaad is omdat jy nie die verhoging gekry het wat jy dink jy verdien nie. Wanneer jy kwaad word vir ‘n geliefde omdat sy of hy nie vir jou geld wil leen nie. Wanneer jy sulke dinge doen, sit jy voor die verkeerde deur en wag op jou seëning!
Ja, dit maak seer wanneer jou werk nie erken word nie. Jy moet egter die volgende verstaan: God sal mense as instrumente gebruik om jou te seën, maar slegs Hy moet altyd die bron van al jou seëninge wees!
Dink oor die volgende Skrifgedeeltes na: ‘Hy het dit gedoen sodat jy nie moet dink dit is deur jou eie krag en energie waardeur jy ryk geword het nie. Onthou altyd dat dit die Here jou God is wat vir jou die krag gee om ryk te word…’ (Deuteronomium 8:17-18 NLV). ‘En as God aan mense rykdom en besittings gee, en die vermoë om dit te geniet, is dit ook ‘n geskenk uit sy hand’ (Prediker 5:18 NLV). ‘Sy besef nie dat dit Ek is wat haar alles gegee het nie…’ (Hosea 2:7 NLV). Wat was haar probleem? Sy het God geïgnoreer en vergeet dat Hy haar ware bron is.
Wanneer jy God as die bron van al jou seëninge erken, verbind jy jouself daartoe om jou verhouding met Hom te koester. Dis hoekom Jesus gesê het: ‘Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (Matteus 6:33 NLV). Wanneer jy God volg, vrygewig in sy koninkryk saai en van Hom verwag om aan jou behoeftes te voldoen – sal jou werke geseën word.
Sielskos: Jak 3-5; Matt 5:1-12; Ps 94:12-23; Spr 10:27