Dit gaan daaroor om weer op te staan!

2022-04-20
Spreuke 24:16 NLV

As jy al ooit ‘n kind dopgehou het wat leer loop, sal jy weet dat om te val ‘n belangrike deel van die proses is. Om weer op te staan is noodsaaklik om die kind se balans en spiere te ontwikkel. Soortgelyk word ‘n bokser nie gediskwalifiseer wanneer hy platgeslaan word nie; hy word gediskwalifiseer wanneer hy val en nie weer opstaan nie. Boksers weet dat hulle dikwels sal val, dus fokus hulle op die kuns om veilig te val en vinnig weer op te staan. Kinders en boksers leer dat dit daaroor gaan om weer op te staan.

Die Bybel sê vir ons dat om te val algemeen onder die regverdiges en die goddeloses is. Dis die opstaan wat hulle van mekaar onderskei. ‘Selfs al val ‘n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan. Die goddelose mens sal bly lê na net een ramp’ (vers 16 NLV). Die goddelose bly lê – die regverdige staan weer op!

Sommige van God se grootste dienaars in die Skrif het in persoonlike mislukking geval. Abram het vir die farao oor sy vrou, Sarai, gejok (sien Genesis 12:11-17). Jakob het sy pa om die bos gelei en sy broer se geboortereg gesteel (sien Genesis 27:17-29). Moses was God ongehoorsaam deur uit woede die rots te slaan (sien Numeri 20:7-12). In plaas daarvan dat hulle egter gediskwalifiseer is, is daar ‘…oor hulle almal op grond van hulle geloof met soveel lof getuig…’ (Hebreërs 11:39 NLV).

Hoekom? Omdat hulle hulle sondes bely en God se vergifnis ontvang het. Hulle het met ander woorde geval, maar weer opgestaan. Wanneer jy val, kan jy ook weer opstaan. Dit is die ‘geloof’ gedeelte van jou reis. Wanneer jy bly lê aanvaar jy mislukking – maar wanneer jy weer opstaan word jou geloof geaktiveer!

Sielskos: 1 Kor 7-9; Luk 24:36-44; Ps 127; Spr 10:11