Wees dapper (2)
2022-04-05Johannes 8:32 NLV
Jesus het gesê: ‘en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak.’ Dit verg dapperheid om ‘n pynlike realiteit in die gesig te staar. Dis makliker om op ‘n huwelik wat in die moeilikheid is op te gee, as om te bly en na ‘n beter plek toe te werk. Dis makliker om aan wanhoop en selfbejammering oor te gee as om terug skool toe te gaan en opleiding vir ‘n nuwe beroep te kry.
Dit verg dapperheid om vir jou beginsels op te staan wanneer jy in die spervuur beland. Iemand het egter gesê: ‘Tensy jy vir iets opstaan, sal jy vir enigiets val.’ Die waarheid is dat enige tyd wanneer jy gewillig is om vir iets op te staan of om iets nuuts te probeer, sal iemand jou teenstaan. Dis maklik om dapper te wees wanneer jy sterk voel, maar dis baie moeiliker om dapper te wees wanneer jy swak en onvoldoende voel. Dis egter dan wanneer jy dapperheid die nodigste het.
Generaal Omar Bradley het opgemerk: ‘Dapperheid is die kapasiteit om reg op te tree, selfs wanneer jy doodbang is.’ Dapperheid beteken dat jy sê: ‘As God dit beloof het, glo ek dit,’ en dat jy dan ten spyte van struikelblokke vorentoe beweeg.
As jy vandag ‘n dosis dapperheid nodig het, lees en mediteer oor die volgende verse: 1) ‘…wees sterk en moenie moedeloos word nie, want julle werk sal beloon word’ (2 Kronieke 15:7 NLV). 2) “Versterk die moeë hande van dié wat moeg geword het. Bemoedig dié wie se knieë swak word en knik. Sê vir dié wat bang is: ‘Wees sterk en moenie bang wees nie. Want julle God kom… om julle te red!'” (Jesaja 35:3-4 NLV). Dís dapperheid!
Sielskos: Lev 5-7; Luk 22:1-13; Ps 26; Spr 9:8-9