Lewe uit geloof
2022-04-01Hebreërs 10:38 NLV
Om uit geloof te leef, is iets wat jy leer om te doen deur dit daagliks te beoefen. Voor jy ‘n Christen geword het, het jy op jou eie vermoë en intellek staatgemaak. Nou vertrou jy op God vir die wysheid, leiding, hulpbronne en vermoë om sy wil vir jou lewe te vervul. Die Bybel sê vir ons: ‘Omdat hy geglo het, het Noag… gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered…’ (Hebreërs 11:7 NLV).
Om uit geloof te lewe maak nie altyd sin nie. Dit beteken nie dat jou probleme in die niet gaan verdwyn nie. Soms verander geloof jou omstandighede; ander kere verander dit jou perspektief. Hoe? Deur jou die volharding te gee om vas te byt wanneer die tjek nie in die pos kom nie, of wanneer die dokter sê dat die siekte ongeneeslik is, of jou eggenoot jou vra om te skei, of die kinders die pad byster raak.
Geloof gee jou die krag om te volhard, met vertroue dat God dinge namens jou sal laat uitwerk. Paulus sê vir ons: ‘Wat is geloof dan? Dit is ‘n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur…’ (Hebreërs 11:1 NLV).
Om uit geloof te lewe, beteken: 1) Om God te gehoorsaam en te glo dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie; 2) om in die voetspore van gewone mense, wat buitengewone dinge vir God gedoen het, te loop; en 3) om jou geloof te gebruik omdat jy weet dat dit die enigste geldstelsel is wat in die hemel erken word.
Wanneer die Bybel sê: ‘Dié mense wat my wil doen, sal uit die geloof lewe…,’ beteken dit nie klein, sporadiese opwellings van geloof nie; dit beteken dat jy geloof ‘n leefstyl maak.
Sielskos: Fil 1-2; Luk 21:1-11; Ps 31:14-24; Spr 9:1-3