Moenie jou vreugde verloor nie
2022-03-11Filippense 4:4 NLV
Paulus skryf: “Wees altyd bly omdat julle Christene is. Ek sê dit weer: ‘Wees bly!'” Hoekom het Paulus homself herhaal? Omdat vreugde die brandstof is waarop ons hardloop en as ons dit nie dophou nie, kan ons tot stilstand kom. Dit beteken dat jy gereeld jou brandstofmeter moet nagaan om seker te maak dat jy nie in negatiwiteit en vertwyfeling verval nie.
In die Bybel, verteenwoordig wyn vreugde. Christus se eerste wonderwerk was inderwaarheid om water in wyn te verander – die beste wat hulle al ooit geproe het. Jesus is ‘n verskaffer van vreugde en wanneer jy aan Hom gekonnekteer bly, sal jy sy vreugde, ongeag jou omstandighede, ervaar. Hy het in Johannes 15:11 gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (NLV).
Dink vir ‘n oomblik hieroor: Hoe kan jy rondloop en sê jou sondes is vergewe, dat God jou lei en jou beskerm en dat jy hemel toe gaan – terwyl jy lyk of jy met ‘n emmer asyn gedoop is? Paulus het soveel vreugde in die tronk gehad, dat sy tronkbewaarders vir Christus gewen is en daar ‘n kerk in die keiser se paleis ontstaan het (sien Filippense 4:22).
Mense word altyd meer deur jou houding as jou teologie beïnvloed. Wanneer hulle sien hoe vreugdevol jy in moeilike tye is, sal hulle heel waarskynlik begin wonder wat jou geheim is en dink: ‘Ek het dit wat daardie persoon het, nodig.’ Hulle word dan meer ontvanklik vir die waarheid. Die vreugde wat hierdie wêreld bied, is net ‘n reaksie op omstandighede, terwyl die vreugde wat uit ‘n lewe met Jesus spruit, jou bo die omstandighede uitlig. Fokus dus op sy vreugde, put krag uit sy vreugde en demonstreer vandag sy vreugde aan die wêreld.
Sielskos: Eks 36-38; Luk 15:11-32; Ps 27; Spr 7:10-20