Die ondersteunende rolverdeling

2022-02-10
Lukas 22:10 NLV

Hollywood deel tydens die Oscar seremonie pryse aan die beste akteur, filmvervaardiger, redakteur, regisseur, kostuumontwerper ens., uit. Die Screen Actors Guild Awards weet egter dat daar nie plek vir groot sterre en beste films kon wees sonder die ondersteunende rolverdeling en die bydraes van die tegniese en kunsspanne nie.

Die Skrif vertel ons dat God ook ‘n ondersteunende rolverdeling het; mense wat gelukkig is om agter die skerms te werk. Hulle is diegene wat hulle ding by die huis, werk of by die kerk doen en stilweg, met vreugde en getrouheid, dien. Families word grootgemaak, nasies word versterk, besighede floreer en kerke groei, te danke aan daardie mense wat die klein dingetjies doen wat die groot verskil maak.

Die Bybel is vol agter-die-skerms mense, soos die naamlose man wat ‘n kan water dra wat Petrus en Johannes na die huis gelei het waar Jesus ‘n Paasmaaltyd voor sy kruisiging saam met sy dissipels geëet het (sien Lukas 22:10-13). Of mense soos ‘Klein-Jakobus’ (Markus 15:40 AFR83), ‘n relatiewe onbekende dissipel wat dikwels deur mense misgekyk is – maar nooit deur God nie!

Wat jy ook al doen, maak nie saak hoe klein dit is nie, neem die volgende belofte ter harte: ‘God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie…’ (Hebreërs 6:10 NLV). Bly dus getrou. Jesus het gesê: ‘…Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het’ (Openbaring 22:12 NLV). God is besig om sy eie Oscar seremonie te beplan – en jy kan deel wees daarvan!

Sielskos: Jes 22-25; Luk 9:18-27; Ps 138; Spr 4:14-17