Beheer jouself!

2022-02-08
Spreuke 25:28 NLV

Beproewinge, onaangename mense en frustrerende omstandighede is potensieel onstellend – en die slegte nuus is dat hulle nie binnekort gaan verdwyn nie. Die goeie nuus is egter dat hulle nie jou probleem is nie! Dis nie wat met jou gebeur wat jou bui bepaal nie; dis wat binne jou gebeur! Ons verbeel onsself dat die lewe dadelik ten beste gaan verander as ons mense en omstandighede kan verander, maar dan sou daar net nuwe mense en omstandighede wees om te hanteer, nie waar nie?

Salomo het dit reg gehad; dit gaan nie daaroor om die wêreld aan die buitekant te beheer nie, dit gaan daaroor om die wêreld aan die binnekant te beheer. Spreuke sê vir ons: ‘Iemand wat homself nie in bedwang kan hou nie, is soos ‘n stad sonder ‘n muur wat beskerming bied.’ Die enigste manier om dus jou sekuriteit te waarborg, is om daarvan te vergeet om mense en dinge te beheer en daarop te fokus om jou beskermende mure in stand te hou.

‘Maar mense en omstandighede kan my onvoldoende en weerloos laat voel,’ sê jy. Die Bybel sê vir ons: ‘…God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade’ (1 Petrus 5:5 AFR83). Om jou eie onvoldoendheid te besef, is inderwaarheid die eerste stap tot volkomenheid. Stap twee is om te aanvaar dat slegs God jou met selfbeheersing kan bemagtig (sien Filippense 2:13). Stap drie lê in die besef dat selfbeheersing nie uit vasberadenheid kom nie; dis ‘n produk van die Heilige Gees – ‘n vrug van die Gees (sien Galasiërs 5:22-23). Wanneer jy jouself aan die Gees wat in jou woon onderwerp, sal Hy jou mure versterk en jou bemagtig om sterk teen die Vyand te staan.

Sielskos: Jes 12-16; Luk 8:40-56; Ps 125; Spr 4:3-4