Hoe om jou angsvlakke te verlaag (1)

2022-02-06
Psalm 55:23 NLV

Wanneer ons gestres is, kan die oplewing van negatiewe emosies oorweldigend wees. Tensy jy jou siel voor God ontlaai, is dit maklik om verkeerde besluite te maak, aan die verkeerde impulse oor te gee, in die verkeerde rigting te beweeg en teenoor die verkeerde mense te ontplof. Die Psalmdigter spreek dit aan: ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg…’ Die hoeveelheid wat jy bewustelik op God leun en krag uit Hom put, is die hoeveelheid wat jou angsvlakke sal verlaag. Dis geen toeval dat baie van die Psalms begin waar Dawid na God om hulp roep en eindig met hom wat juig omdat hy sy frustrasies met die regte persoon – met God! – gedeel het nie.

Die lewe is 10 persent dit wat met jou gebeur en 90 persent hoe jy daarop reageer. Jou werk, jou finansies, jou huwelik, jou kinders, jou gesondheid en jou toekoms is alles bronne van angs, dus sal jy nooit heeltemal vry van angs wees nie. Jy kan egter jou angsvlakke verlaag deur Paulus se raad te volg: ‘Almal moet vir God, die Vader van ons Here Jesus Christus, prys. God is die Vader wat baie goed is vir ons en Hy is die God wat altyd vir ons bemoedig. Hy bemoedig ons wanneer ons swaarkry, dit maak nie saak wat die swaarkry is nie. Dan kan ons ook ander mense bemoedig wat swaarkry, dit maak nie saak wat hulle swaarkry is nie. Ons kan dit doen omdat God vir ons bemoedig. Ja, ons kry baie maal swaar omdat ons aan Christus behoort. Maar so bemoedig God ook baie maal vir ons omdat ons aan Christus behoort’ (2 KorintiĆ«rs 1:3-5 ABA).

Om ‘n welbekende pastoor aan te haal: ‘Hoe meer jy bid, hoe minder paniekerig sal jy wees. Hoe meer jy lofprys, hoe minder bekommer jy jou.’

Sielskos: Jes 53:1-12; Hand 8:26-40