Die argument vir God (1)
2022-01-09Handelinge 14:17 NLV
Glo jy dat daar ‘n God is wat alle dinge, insluitend vir jou, gemaak het? Ja? Dan is jy geseënd. Aan die ander kant, as jy nie in God glo nie, probeer om ‘n oog, ‘n oor of ‘n brein uit niks te maak. Of probeer om ‘n blom te skep wat nektar produseer wat deur bye (wat jy gemaak het) ingesamel kan word, en laat hulle dan hierdie nektar in heuning omskep vir jou om te eet.
Jy asem lewensnoodsaaklike suurstof in wat deur bome vrygestel word en asem dan koolstofdioksied uit wat die bome nodig het om te oorleef. Briljant, nie waar nie? Miskien is dit hoekom die meerderheid mense in ‘n Newsweek opname aangedui het dat hulle in God glo. Wat dan van die klein 3 tot 5 persent wat beweer dat hulle ateïste is? Is hulle net slimmer as die res van ons, of kyk hulle sekere voor die hand liggende bewyse mis?
‘n Ateïs word gedefinieer as iemand wat nie in God glo nie. Omdat dit egter onmoontlik is om wetenskaplik te bewys dat iets nie bestaan nie, kan ateïste nie vir seker weet dat daar nie ‘n God is nie. Hulle siening word slegs op die gebrek aan bewyse gebaseer. Die Bybel sê: ‘maar tog het Hy duidelike getuienis gegee dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën gegee van die hemel af, en oeste op hulle tyd; Hy het julle volop kos gegee en in julle harte volop vreugde’ (vers 17 NLV).
Die ‘bewyse’ is reg rondom ons. God se bestaan kan bewys word. Jy kan ook ‘n persoonlike verhouding met Hom hê!
Sielskos: 1 Sam 3:1-11; Hand 9:1-9