Liefde is ‘n besluit
2022-01-08Matteus 22:37 NLV
Toe ‘n Fariseër vir Jesus vra wat die grootste gebod is, het Hy geantwoord dat hy God, ander mense en homself moet liefhê (sien verse 37-39 NLV). Let op dat Hy gesê het: ‘…Jy moet… liefhê…’ Dit sê baie van die ware aard en optrede van liefde. As liefde beveel kan word, dan kan dit nie net emosioneel of ‘n saak van gevoelens wees nie. Ware liefde is baie meer as gevoelens; dis ‘n saak van jou wil. Dis hoekom Jesus ons beveel om dit uit te druk.
Alhoewel gevoelens belangrik is, funksioneer ware liefde ongeag hoe jy voel. Mark Sanborn skryf in sy boek, The Fred Factor, die volgende: ‘Ek het lank gelede geleer dat om van mense te hou en vir hulle lief te wees, twee verskillende dinge is. Om van iemand te hou is ‘n emosionele reaksie – dis ‘n gevoel. Die probleem is dat ons nie ons emosies kan beheer nie. Ons kan beheer hoe ons daardie emosies uitdruk, maar nie die gevoel self nie. ‘n Persoon kan byvoorbeeld kwaad word, maar steeds kies om liefdevol op te tree. Miskien is dit een rede hoekom Jesus nie gesê het: ‘Hou van julle vyande,’ nie. Hy het geweet dat om van iemand te hou of nie van daardie persoon te hou nie, nie altyd binne ons onmiddellike beheer is nie. Ek het geleer dat liefde, onder andere, ‘n aksie is. Ek kan vir iemand van wie ek nie noodwendig hou nie, lief wees. Ek kan op ‘n sekere manier iets vir daardie persoon doen of teenoor hom optree, selfs al geniet ek dit nie baie nie.’
Hier is egter die merkwaardige: Wanneer jy liefdevol teenoor ‘n ander persoon optree, begin jou emosies in lyn met jou aksies beweeg. Toe, probeer dit en kyk wat gebeur!
Sielskos: Gen 17-19; Luk 1:67-80; Ps 42:6-11; Spr 1:28-31