Weeg jou woorde versigtig op
2022-01-07Jakobus 3:2 NLV
Wanneer dit by jou tong kom, is daar drie reëls: 1) Moenie te gou praat nie. ‘Ons maak almal baie foute. Maar ‘n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry’ (vers 2 NLV). Omdat jy nooit heeltemal bewus kan wees van alles waaroor ‘n persoon sensitief is nie, moet jy op die Heilige Gees staatmaak om jou woorde op so ‘n manier te rig dat dit nie pyn veroorsaak of hulle aan negatiewe ervarings herinner nie. Die teenoorgestelde is ook waar. Oefen om nie maklik aanstoot te neem nie en gee aan ander die voordeel bo die twyfel wanneer hulle iets sê wat verkeerdelik kan aanstoot gee.
2) Moenie te vinnig reageer nie. ‘Iemand wat ‘n antwoord gee voor hy die vraag gehoor het, is dwaas…’ (Spreuke 18:13 NLV). Voor jy praat, luister eers versigtig en maak seker dat jy verstaan wat gesê word. As jy nie verstaan nie – sê so. Jou behoefte om ‘goed te lyk’ kan veroorsaak dat jy die respek van die persoon wat jy probeer beïndruk, verloor.
3) Moenie jouself te vinnig verbind nie. Salomo skryf: ‘Moenie te gou praat nie. Moenie oorhaastig iets aan God belowe nie…’ (Prediker 5:1 NLV). Hy gaan voort deur te verduidelik dat ons nie moet probeer om ‘n belofte te verbreek deur te sê dat ons ‘n fout gemaak het nie. Jou woord is jou eer en wanneer jy ‘n belofte verbreek, maak jy mense seer en gee jy hulle vertroue prys.
Neem dus ‘n oomblik voor jy praat en indien nodig, neem tyd om daaroor te bid. Jou tyd en jou woorde is twee dinge wat nooit teruggeneem kan word nie, weeg dus jou woorde versigtig op.
Sielskos: Gen 13-16; Luk 1:57-66; Ps 42:1-5; Spr 1:20-27