Hoe om vrugte te dra (5)

2022-01-06
Johannes 15:2 DB

Jy moet jou aan die snoeiproses onderwerp. ‘…Hy snoei hulle en maak hulle skoon sodat daar baie plek vir die druiwetrossies is.’ Die snoeiproses beteken dat jy dooie takke afsny en lewende takke wegsny. Beide is noodsaaklik om die boom te vorm en groei te stimuleer. God sny egter nie net dit wat sondig en oppervlakkig is af nie, Hy sny ook dit wat lewendig en suksesvol is, weg; ‘n besigheid wat goed doen, ‘n bevredigende verhouding of ‘n plan wat lyk of dit goed werk. God sny nie net die ‘slegte’ af nie, maar ook die ‘goeie’ om jou sodoende die ‘beste’ te gee. Dis nie lekker nie, maar dit is absoluut noodsaaklik vir geestelike groei.

Wat wil God in jou lewe hê? Baie vrugte (sien Johannes 15:8). Dus gaan jy gesnoei word! Jy mag dalk tans ‘n besnoeiing ondergaan en dit mag dalk nie alles dooie hout wees nie. God sny dinge wat ons as produktief sien af, sodat meer vrugte in ons lewens geproduseer kan word. Ons glo dat ons getrou is, dus verwar en frustreer dit ons wanneer Hy aan ons snoei.

‘Hoekom doen U dit, Here? Ek het my besigheid aan U oorgegee, maar nou is dit nie winsgewend nie. Ek het my gesondheid aan U toevertrou, maar nou is ek in die hospitaal. Ek het getrou my tiende gegee, maar tog is ek bankrot.’ Wat gebeur? ‘Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ‘n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gebrei is, die blye oes oplewer van ‘n lewe volgens die wil van God’ (Hebreërs 12:11 NLV). Jy word vir groter vrugbaarheid gesnoei.

Sielskos: Gen 10-12; Luk 1:39-56; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19