Hoe om vrugte te dra (2)
2022-01-03Spreuke 12:3 AFR53
Jy moet diep geestelike wortels ontwikkel. ‘Maar gelukkig is dié mense wat op die Here vertrou… Hulle is soos bome wat langs ‘n rivier staan, hulle wortels reik diep tot by die water. Hitte bedreig hulle nie, hulle blare bly groen. Lang maande van droogte pla hulle ook nie, hulle hou nie op om vrugte te dra nie’ (Jeremia 17:7-8 NLV). Hierdie Skrifgedeelte gee jou een rede hoekom jy diep geestelike wortels moet hê: sodat jy dit deur moeilike tye – tye van hitte en droogte – kan maak. Salomo het gesê: ‘Iemand wat verkeerd lewe, het nie vastigheid nie. Iemand wat regverdig lewe, is stewig geanker’ (Spreuke 12:3 NLV).
Dis wanneer seisoene van teëspoed jou tref wat jy ontdek waaraan jy geanker is: God se krag of bloot jou eie. Wanneer die Bybel van ‘hitte’ praat, praat dit van druk in die lewe. Wanneer dit van ‘droogte’ praat, praat dit van seisoene van krisis en gebrek. Wat is dus die antwoord? Wortels wat diep tot by die water reik. Wat is die resultaat? Hulle hou nie op om vrugte te dra nie. As jy die wortels van ‘n groot eikeboom sou meet, sou dit oor verskeie honderde kilometers strek. Dis hoekom hulle stabiel in die storms van die lewe is.
Paulus skryf die volgende: ‘Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word. Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees… Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word’ (Efesiërs 3:16-17, 19 NLV).
Sielskos: Gen 1-3; Luk 1:1-10; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4