Hoe om vrugte te dra (1)
2022-01-02Johannes 15:16 NLV
Toe Jesus gesê het: ‘…Ek [het] julle uitgekies… om te gaan vrugte dra, vrugte wat sal hou…,’ het Hy inderwaarheid gesê: ‘Leef jou lewe in die strewe na dit wat blywende betekenis en ewigheidswaarde het!’
Wat bedoel Hy met ‘vrugte’? Die vrugte van die Gees is: ‘…liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 NLV). Hierdie nege eienskappe beskryf die enigste lewe wat waarlik die moeite werd is om te lewe.
Gelukkig hoef jy nie hierdie vrugte deur jou eie inspanning te probeer produseer nie. Nee, Jesus het gesê: ‘Ek is die egte druiwestok en my Vader is die tuinier. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af. Elkeen wat egter vrugte oplewer, snoei Hy sodat dit nog meer vrugte kan dra… Julle moet aan my verbonde bly soos Ek aan julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie voluit aan My verbonde bly nie. Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:1-2, 4-5 NLV).
Met wie praat Jesus? Gelowiges. ‘Elke loot aan My’ (vers 2 NLV). Wie is die tuinier? ‘My Vader is die tuinier’ (vers 1 NLV). Wat is sy doelwit? Vir jou om ‘nog meer vrugte [te] kan dra’ (vers 2 NLV). Wat is die geheim tot baie vrugte? Konstante kontak en intimiteit met Jesus. ‘Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte’ (vers 5 NLV). As jy dus meer vrugte wil dra, moet jy nader aan God beweeg.
Sielskos: 2 Kron 7:12-16; Matt 6:5-15; Luk 18:1-8