Krisisbestuur (1)

2021-12-11
Psalm 142:4 NLV

Hoe jy ‘n krisis hanteer, sal bepaal of jy oorweldig voel of sterker anderkant uitkom. Dr Jeffrey Rossman stel vyf maniere voor om dit te doen: 1) Erken jou gevoelens. Dawid het gesê: ‘Wanneer ek moed verloor, dan ken U my pad…’ God weet reeds hoe jy voel en as jy jou emosies probeer onderdruk, mors dit net jou energie, maak jou gespanne en depressief en vertraag die genesingsproses.

2) Neem iemand in jou vertroue. Dit beteken nie dat jy jou hart teenoor almal en enigiemand moet uitstort nie; dit beteken dat jy jou hart teenoor diegene wat vir jou lief is en vir jou omgee, oopmaak. Die Bybel sê: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is’ (Spreuke 17:17 NLV).

3) Begin ‘n dagboek. Om oor ‘n traumatiese gebeurtenis te skryf, is ‘n manier om ontlading daaraan te gee. Hoe meer jy daaroor skryf, hoe meer sal jou negatiewe reaksies aan die herinnering daarvan, verminder.

4) Weier om die blaam rond te skuif. ‘Dis die ander persoon se fout,’ of ‘Die dokter het die prosedure opgemors,’ of ‘Die baas het my nooit ‘n kans gegee nie.’ Wanneer jy die blaam skuif, maak jy ander mense vir jou pyn verantwoordelik en dikwels veroorsaak dit blywende wrokkigheid, wat jou ellende verleng. Laat toksiese bitterheid en veroordeling gaan.

5) Vergewe jouself. Verrassing – jy is menslik, net soos almal anders! Erken dat jy ‘n fout gemaak het, vra God vir vergifnis, vergewe dan jouself en beweeg aan. God se Woord sê dat wanneer Hy vergewe, Hy nie weer aan jou sondes dink nie (sien Jesaja 43:25). Jy moet dit ook nie doen nie.

Sielskos: Neh 8-10; Joh 18:25-40; Ps 105:1-7; Spr 30:1-4