Gebruik lofprysing
2021-12-09Psalm 89:16 NLV
Die Psalmdigter skryf: ‘Geseënd is hulle wat U met vreugde dien, wat lewe in die lig van u teenwoordigheid, Here.’ Lofprysing is nie net ‘n reaksie daarop om in God se teenwoordigheid in te gaan nie; dit doen baie meer. Dit maak die deur oop waardeur God jou lewe binnegaan en namens jou aan die werk spring. Met ander woorde, lofprysing bring God se teenwoordigheid, sowel as sy direkte ingryping, mee.
Die naam Juda beteken: ‘Prys die Heer,’ en toe die twaalf stamme van Israel gereis het, het Juda hulle gelei (sien Rigters 20:18). Op een geleentheid, toe Israel se vyande teen hulle opgetrek het, het Josafat ‘n koor na die voorste linies gestuur om met lofprysing eer aan God te bring. Dit mag dalk soos ‘n vreemde strategie klink, maar dit het ‘n bonatuurlike oorwinning meegebring. Die Bybel sê: ‘Die oomblik toe hulle begin sing en die Here prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg. Die leërs van Moab en Ammon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig’ (2 Kronieke 20:22-23 NLV).
Lofprysing is ‘n uitdrukking van geloof; ‘n bevestiging dat jy glo dat God in beheer van die situasie is. Die Bybel praat van ‘n ‘lofoffer’ (Hebreërs 13:15 NLV). Dit beteken dat jy God moet prys, selfs wanneer jy nie lus is om dit te doen nie. Wanneer dit nie natuurlik kom nie, moet jy kies om dit in elk geval te doen. Nehemia het gesê: ‘…die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees!’ (Nehemia 8:10 NLV). Lofprysing kan jou emosies genees en die gewig van negatiwiteit wat op jou druk, oplig. Toe, probeer dit!
Sielskos: Neh 1-4; Joh 18:1-11; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21