Hoe lyk dinge by die huis?

2021-12-03
Psalm 101:2 DB

Na koning Dawid se owerspel met Batseba, het die profeet Natan gesê: ‘Van nou af sal die swaard ‘n permanente bedreiging vir jou familie inhou…’ (2 Samuel 12:10 NLV). Dit het ook so gebeur. Nadat sy seun, Amnon, sy halfsuster Tamar verkrag het, het Dawid niks daaraan gedoen nie, omdat hy sy morele outoriteit by die huis verloor het. Sy ander seun, Adonia, het ‘n staatsgreep uitgevoer. ‘Sy pa… het hom van kleins af nooit berispe of selfs gevra: ‘Wat doen jy?’ nie…’ (1 Konings 1:6 NLV).

As leier het Dawid Israel verenig, oorloë gewen en die verbondsark terug na Jerusalem gebring. Binne sy eie familie het hy egter misluk. Geen wonder hy het: ‘…teen die Olyfberg opgegaan… [en] die hele tyd gehuil…’ nie (2 Samuel 15:30 NLV). Toe hy van sy seun Absalom se ontydige afsterwe te hore gekom het, het hy uitgeroep: ‘…As ek maar in jou plek kon sterf!..’ (2 Samuel 18:33 NLV). Toe hy self op sterwe gelê het, het sy slawe ‘n jong meisie gaan soek om hom te versorg en te bedien, in plaas daarvan om dit van sy vrou of kinders te verwag (sien 1 Konings 1:1-4).

Dis te laat om Dawid se verhaal te verander – maar nie te laat om joune te verander nie! As jy sukses in jou loopbaan behaal, maar by die huis misluk, sal jou prestasies leeg wees. Behalwe vir jou verhouding met God, moet jou eerste prioriteit wees om jou maat lief te hê en jouself aan die kinders wat jou naam dra, toe te wy. Dawid het geskryf: ‘…Daar by my huis wil ek so leef dat U daarop trots kan wees.’ Ongelukkig was Dawid se beste nie goed genoeg nie. Deur God se genade, kan jou verhaal egter anders wees!

Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 16:1-11; Ps 130; Spr 28:21-24