God se oplossing vir depressie (2)

2021-11-07
1 Konings 19:9 NLV

Vertel God van jou frustrasies. Nadat hy deur ordentlike kos en rus versterk is, het Elia vir veertig dae gereis. Toe het hy ‘n grot binnegegaan en die nag daar deurgebring. In die oggend het die Here hom gevra: ‘…’Wat maak jy hier, Elia?’ Elia antwoord: ‘Ek het U met toewyding gedien, Here God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak’ (verse 9-10 NLV).

Elia het sy gevoelens voor die Here uitgestort en God het hom toegelaat om stoom af te blaas. Hy was nie deur Elia se klagtes geskok nie. Soms is dit bevrydend om jou gevoelens met ‘n betroubare vriend te deel. Dis suiwerend, ‘n skoonmaaktegniek, ‘n uitlating van al die dinge wat jy onderdruk en wat by jou gevoelens van depressie bydra. Elia het baie gevoelens binne-in hom onderdruk.

Let op die emosies wat hy ervaar het. Hy was bang (sien vers 3). Toe het hy gegrief gevoel, gevolg deur ‘n lae selfbeeld en skuldgevoelens. ‘…Ek het nou genoeg gehad… ek is niks beter as my voorouers nie’ (vers 4 NLV). Hy was kwaad omdat hy hard gewerk het en niks bereik het nie (sien vers 10). Hy was eensaam tot op die punt van wanhoop: ‘…en nou probeer hulle my ook doodmaak’ (vers 10 NLV). Hy was bekommerd. Wanneer jy vrees, gegriefdheid, ‘n lae selfbeeld, skuldgevoelens, woede, eensaamheid en bekommernis kombineer, vra jy vir depressie!

Dus het God hom toegelaat om daaroor te praat. Hy het gesĂȘ: ‘Elia, wat frustreer jou? Wat vreet aan jou?’ en Elia het alles voor Hom uitgestort. Wanneer jy dus depressief is, neem dit na God in gebed toe.

Sielskos: Eks 20:1-17; Matt 5:1-12