Berei voor deur gebed

2021-11-05
Matteus 26:40 NLV

In Getsemane het Jesus teruggekom ‘…by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: ‘So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie? Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ‘n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie’ (vers 40-41 NLV). Jesus was net ure van die kruis af weg en het sy dissipels gevra om vir Hom te bid.

Dink net hoe teleurgesteld Hy was om hulle aan die slaap te vind! Miskien het hulle nie genoeg rus die vorige aand gekry nie. Miskien was hulle uitgeput na ‘n harde dag se werk. Ons was al almal slagoffers van lomerigheid, dus moet ons nie verbaas wees dat hulle aan die slaap geraak het nie, maar ons is! Ons is geskok, omdat dit so ‘n belangrike nag was. Hierdie nag, meer as enige ander nag, het die dissipline van gebed vereis. Die dissipels het ‘n groot geleentheid om Jesus in sy uur van nood te bemoedig en versterk, misgeloop. Hulle het ook die geleentheid om hulself te versterk, misgeloop.

Satan weet dat as hy jou van gebed kan weerhou, jy magteloos sal wees. Hy is die meester van afleiding. Dink hoe dikwels hy jou al van stiltetyd met God besteel het, deur dinge soos die televisie, die telefoon, die internet, ‘n deurmekaar huis of jou swaar ooglede te gebruik. Jou stiltetyd met God is nie iets wat jy by jou skedule probeer ‘inpas’ nie, dis iets wat jy moet prioritiseer, of dit sal nie gebeur nie. Jy weet nie wat elke dag vir jou inhou nie, maar deur gebed en om tyd met God se Woord te bestee, kan jy jou hart vir enigiets voorberei.

Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 25:13-17