Daar is nie omdraai kans nie

2021-11-04
Hebreërs 10:38 NLV

‘n Klein seuntjie het by die Sondagskool die verhaal gehoor oor hoe Lot se vrou omgekyk het na Sodom toe en in ‘n soutpilaar verander het (sien Genesis 19:26). ‘Dis niks,’ het hy gesê. ‘Laas week toe my ma by die straat af ry, het sy omgekyk en haar kar in ‘n telefoonpaal verander!’ Op ‘n ernstiger noot, God sê: ‘…Maar dié wie se moed hulle begewe – van hulle wil Ek niks weet nie.’

In Hebreërs hoofstuk elf vind ons ‘n lys van gewone mense wat in die moeilikste tye geweier het om om te draai. Die Bybel sê: ‘As hulle terugverlang het na die land waaruit hulle oorspronklik getrek het, kon hulle maklik omgedraai en teruggegaan het. Hulle het egter gesmag na ‘n beter blyplek van hulle eie, ‘n plek in die hemel by God. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie. Om die waarheid te sê, Hy het vir hulle ‘n spesiale blyplek by Hom reggemaak’ (Hebreërs 11:15-16 DB).

As jy aan die begin van jou pad met God is, sal Satan elke truuk in die boek gebruik om jou van die pad af te bring. As jy in die middel van jou pad met God is, sal hy vir jou probeer vertel dat jou lewe nie tel nie. Moenie hom glo nie; hy is ‘n leuenaar! As jy naby aan die einde van jou pad met God kom, sal hy jou probeer ontmoedig deur al jou foute en mislukkings uit te lig. Moenie aandag aan hom gee nie! Staan eerder op hierdie Skrifgedeelte: ‘…ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag van sy koms’ (2 Timoteus 1:12 NLV).

Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Joh 8:21-30; Ps 86; Spr 25:8-12