Besit vrede – God is steeds in beheer!

2021-11-01
Filippense 4:7 NLV

Die volgende gesegde word aan Moeder Teresa toegeskryf: ‘Ek weet dat God my niks sal gee wat ek nie kan hanteer nie. Ek wens net Hy het my nie so baie vertrou nie!’ Is dit hoe jy vandag voel? Asof daar te veel is om te doen en nie genoeg van jou om dit alles te doen nie? Dink dan na oor Romeine hoofstuk vyftien, vers dertien: ‘Ek bid dat dié God wat aan ons ‘n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees’ (NLV).

Die manier om vrede te midde van ‘n moeilike situasie te hê, is om deur die Heilige Gees vervul te bly. Hoe kan jy dit doen? Deur ‘n geestelike honger te ontwikkel en toe te laat dat God jou vul. Hy kan jou ‘n sin van kalmte gee wanneer jy deur stres omring word.

So, as jy dus vandag voel of jy verdrink, bid die volgende: ‘Vader, U het gesê dat geen wapen iets teen my sal kan uitrig nie (sien Jesaja 54:17). U het gesê dat wanneer ek enigiets volgens u wil vra, sal U my versoek toestaan (sien 1 Johannes 5:14-15). U het gesê wanneer ek in gehoorsaamheid wandel, ek geseën sal wees wanneer ek kom, wanneer ek gaan, wanneer ek gaan slaap en wanneer ek opstaan (sien Deuteronomium 28:6; Psalm 1:2; 3:6). U het gesê dat ek al my probleme aan U kan oorgee en dat U vir my sal sorg (sien 1 Petrus 5:7). Hier is hulle dus! Vandag staan ek op u beloftes. U het dit gesê! Ek glo dit! So sal dit wees! Amen.’

Sielskos: 1 Kro 17:1-20; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18