Beoefen vandag nederigheid
2021-10-14Matteus 23:12 NLV
Paulus het een van die grootste bedieninge wat die wêreld ooit gesien het, gehad, maar tog het hy van homself gesê: ‘…Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red, en ek was die ergste van hulle almal’ (1 Timoteus 1:15 NLV). Wanneer mense vir Paulus vertel het hoe wonderlik hy is, het hy nederig gebly deur te onthou wat hy was. Indien jy glo dat God jou geroep het, moet jou reaksie wees om in nederigheid voor Hom neer te buig.
Toe die Engel van die Here vir ‘n bejaarde Sagaria gesê het dat hy die pa van ‘n seun, genaamd Johannes die Doper, sou word, het Sagaria op die vloer neergeval en nie beweeg nie. ‘n Boek in die Bybel is na Esegiël vernoem, maar toe God hom geroep het, het hy op die vloer neergeval en God moes vir hom sê om op te staan: “‘Staan op, mensekind,’ het die stem gesê. ‘Ek wil met jou praat'” (Esegiël 2:1 NLV). Toe Johannes vir Jesus te midde van die sewe gemeentes sien staan, het hy geskryf: ‘Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ‘n lyk…’ (Openbaring 1:17 NLV).
Kan jy ‘n patroon hier na vore sien kom? Paulus skryf: ‘…Laat julle roeping julle leefstyl bepaal. Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra’ (Efesiërs 4:1-2 NLV). Om saam met God te stap is die hoogste roeping wat jy kan kry. Nederigheid beteken nie dat jy minder van jouself moet dink nie; dit beteken dat jy minder aan jouself moet dink. Jesus het dit as volg opgesom: ‘Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder. Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer.’ Beoefen vandag nederigheid.
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 3:22-36; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21