Wees ‘n aanspoorder (2)

2021-10-12
Handelinge 14:22 NLV

‘n Aanspoorder het die vermoë om drie dinge te doen: 1) Om te bevestig. ‘Paulus en Barnabas het die Goeie Nuus ook in Derbe verkondig, en hulle het ‘n redelike aantal volgelinge van Jesus bygekry. Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië toe teruggegaan. Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om vol te hou met die geloof. ‘Ons moet eers deur baie verdrukking gaan voordat ons voluit aan die koningsheerskappy van God kan deel hê,’ het hulle gesê’ (verse 21-22 NLV). ‘n Aanspoorder is in moeilike tye ‘n steunpilaar en weet hoe om mense te motiveer. Hulle gooi ‘n reddingsboei aan diegene wat besig is om in ‘n see van vertwyfelinge te verdrink.

2) Om te vertroos. ‘Paulus en Silas is toe terug na Lidia se huis, en hulle het die gelowiges gesien en hulle bemoedig. Daarna het hulle vertrek’ (Handelinge 16:40 NLV). Hier word die gawe van aansporing in sy beste vorm gedemonstreer. Paulus en Silas is vals beskuldig, met stokke geslaan en in die tronk gegooi. Toe hierdie nuus die kerk bereik, was die gelowiges baie mismoedig. Wonderbaarlik het Paulus en Silas, nadat hulle bonatuurlik uit die tronk bevry is, vertroosting aan die gelowiges gaan bied, eerder as om dit self te ontvang.

3) Om te konfronteer. ‘Ek moedig sowel Euodia as Sintige aan om hulle meningsverskille op te los omdat hulle één is met die Here… Hulle het hard gewerk saam met my… om die Goeie Nuus uit te dra…’ (Filippense 4:2-3 NLV). Hierdie twee prominente vroue in die kerk kon nie met mekaar oor die weg kom nie, dus het Paulus die rol van vredemaker aangeneem en hulle gekonfronteer. Hy was vriendelik, hy was regverdig, maar hy was ferm. Jy moet ook dieselfde wees.

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; John 2:12-25; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14