Wees ‘n aanspoorder (1)

2021-10-11
Hebreërs 3:13 NLV

Die Griekse woord vir aanspoor is ‘parakalew.’ Dit kom van twee woorde af, waarvan een ‘langsaan’ en die ander ‘om te roep’ beteken. Dit is die wortel van die Griekse woord ‘paraclete,’ wat die naam is wat Jesus vir die Heilige Gees gegee het. Die Heilige Gees spoor ons aan en bemoedig ons in ons wandel met God.

Jy is nooit meer in voeling met die Heilige Gees en sy bediening, as wanneer jy ander mense aanspoor en bemoedig nie. ‘n Aanspoorder kan ‘n verloorder in ‘n wenner, ‘n leeglêer in ‘n werker en ‘n pessimis in ‘n optimis verander. Hulle inspireer ander mense met hernude moed, gees en hoop. Hulle het ‘n bediening van bevestiging en waardering.

Dit is belangrik om die verskil tussen bevestiging en waardering te verstaan. Ons waardeer wat iemand doen, maar ons bevestig wie ‘n persoon is. Waardering kom en gaan, omdat dit gewoonlik met iemand se prestasies gepaardgaan, maar bevestiging gaan reg na die hart van ‘n persoon, omdat dit op daardie persoon se individuele waarde gerig word.

‘n Aanspoorder het die vermoë om jou goed oor jouself te laat voel. Deur net in jou teenwoordigheid te wees, hef hulle jou op, inspireer, motiveer en laat hulle jou beter voel. Die Bybel sê dat Barnabas ‘n aanspoorder was. ‘Toe hierdie nuus die Jerusalem-gemeente bereik, het hulle vir Barnabas na Antiogië toe gestuur om te kyk of die nuwe gelowiges darem doen wat God vra. Hy was aangenaam verras toe hy daar aankom en sien wat God besig was om in hulle lewe te doen. Barnabas het hulle opgewonde aangespoor om die Here met alles in hulle te dien en aan Hom getrou te bly’ (Handelinge 11:22-23 DB).

Die woord vir jou vandag is dus: wees ‘n aanspoorder.

Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Joh 2:1-11; Ps 110; Spr 23:6-9