Strewe daarna om God intiem te leer ken

2021-10-09
Filippense 3:10 DB

Dis een ding om van God te weet, maar dis iets heeltemal anders om Hom intiem te ken. Neem ‘n oomblik en ondersoek vandag jou lewe. Het jou wandel met God tot stilstand gekom? Is jou tenk leeg? ‘n Vol tenk is net moontlik as jy gereelde besoeke aan die vulstasie bring; wat beteken dat jy die petrolnaald moet dophou. ‘n Vol tenk gebeur ook nie net vanself nie; dit verg waaksaamheid, toewyding en optrede. Jou vlees sal elke dag teen jou werk en ongunstige omstandighede sal jou ontmoedig. As dit maklik was, sou enigiemand dit kon doen.

Die prys gaan aan diegene wat soos Paulus kan sê: ‘Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken. Daardie krag wat Jesus lewend uit die graf laat uitstap het, wil ek ook hê. Ek wil nie weghardloop vir lyding soos Jesus s’n nie, al beteken dit ook dat ek soos Hy moet sterf. Ek weet tog dat ek soos Hy eendag lewendig uit die kloue van die dood sal stap’ (Filippense 3:10-11 DB).

Die Bybel vertel vir ons: ‘Alhoewel die mens en sy vrou sonder klere was, was hulle nie skaam vir mekaar nie’ (Genesis 2:25 NLV). Dís fisiese intimiteit! Die beste intimiteit is egter nie tussen ‘n man en ‘n vrou nie, maar met God! Paulus het nie net daarvoor gebid nie; hy het dit met sy hele hart nagestreef. Niks was vir hom belangriker nie.

Het jy so krities teenoor die mense rondom jou geword, dat jy soos ‘n ongelowige klink? Het jy toegelaat dat jou sondige gewoontes jou selfvertroue voor God steel? (Sien 1 Johannes 3:21-22). As dit die geval is, moet jy iets daaraan doen! Begin vandag om daarna te strewe om God intiem te leer ken.

Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Joh 1:43-51; Ps 23; Spr 23:4-5