Deur Christus kan jy die gewoonte verbreek!
2021-10-07Filippense 4:13 ABA
Hardnekkige gewoontes neem ‘n lewe van hul eie aan; dis hoekom hulle aanhou groei. Hulle het ‘n brein wat vir jou dink, ‘n stem wat met jou praat en ‘n krag wat jou aanhou oorwin. Wat staan jou dus te doen? Bid en spreek God se Woord oor jou gewoonte uit!
Bid die volgende: ‘Here, u Woord sê dat as ek tot U roep, sal U my antwoord. Dat U saam met my in nood sal wees en my sal red en in eer herstel (sien Psalm 91:15). U het belowe dat deur die krag van u inwonende Gees, ek vry van hierdie kwaadwillige siklus van versoeking, sonde en mislukking kan wees (sien Romeine 8:2). U het gesê as ek my lewe ten volle aan U toewy, sal ek die krag hê om die Duiwel te weerstaan en dat hy van my af sal wegvlug (sien Jakobus 4:7). U Woord sê dat U my die mag gegee het om my ou geestelike vestings af te breek en beheer van elke eiewyse gedagte en impuls, te neem (sien 2 Korintiërs 10:5 NLV). U het belowe dat wanneer ek elke dag u Woord lees en daaroor mediteer, sal ek deel aan u Goddelike natuur kry en die neigings van my vlees oorkom (sien 2 Petrus 1:4). U het belowe om my in my gedagtes, emosies en wil te versterk; dat my selfwaarde alleenlik op u liefde vir my gebaseer sal word; dat U meer sal doen as wat ek vra of ooit kan dink om te vra – omdat U in my aan die werk is (sien Efesiërs 3:14-21). Vandag spreek ek oorwinning oor hierdie gewoonte uit, in Jesus se naam, Amen.’
Die woord vir jou vandag is: ‘Christus gee vir my die krag om enige iets te doen’.
Sielskos: Ef 4:17-6:24; Joh 1:14-28; Ps 29; Spr 22:26-29