Gedagtes oor vrygewigheid (1)

2021-10-01
2 Korintiërs 8:7 NLV

Paulus skryf: ‘Aangesien julle in elke opsig uitmunt: in geloof, met die woord, kennis, groot ywer en die liefde wat ons aan julle betoon het, munt dan nou ook uit in hierdie liefdeswerk.’ Wat is die liefdeswerk waarvan Paulus hier praat? Om te gee! God het jou nie geroep om ‘n reservoir te wees wat al sy seëninge vir jouself opgaar nie, maar ‘n rivier wat sy seëninge na ander mense toe neem. Baie Christene het geleer hoe om te ontvang, maar nie hoe om te gee nie. As jy in die gewoonte kom om ‘n Christen te wees wat ontvang, eerder as om ‘n Christen te wees wat gee, sal jou geloofslewe opdroog en aan die wingerdstok sterf.

Daar is twee seë in Palestina wat beide deur die Jordaanrivier gevoed word. Een see is vars en loop oor van lewe. Visse swem daarin, groen plante en bome strek hulle takke oor die oewer uit en vestig hulle wortels om van die voedende water te kan drink. Die ander see bevat egter geen lewe nie. Geen vis kan daarin oorleef nie. Niemand kan van die water, wat vuil en besoedel is, drink nie. Tog word beide seë deur die Jordaanrivier gevoed.

Wat is die verskil? Die See van Galilea ontvang water van die Jordaan, maar dit gee ook water. Vir elke druppel wat in die see invloei, vloei daar weer ‘n druppel uit. Die ander see gaar egter sy water op. Elke druppel wat dit ontvang, word geberg. Die See van Galilea gee en lewe. Die ander see ontvang en gaar op en word die Dooie See genoem.

Wanneer jy opgaar en jou seëninge vir jouself hou, sal jy geestelik sterf. Wanneer jy egter mildelik gee, kry jy geestelik lewe.

Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Luk 24:13-24; Ps 68:19-35; Spr 22:6