Praat op ‘n positiewe manier (4)

2021-09-05
Romeine 8:6 NLV

Pessimisme affekteer jou geestelik, emosioneel en fisies. Negatiwiteit word direk met hartsiektes, immuunstelseltekorte en die vermoë om fisiese pyn die hoof te bied, verbind. Die beroemde Mayo kliniek het agt-en-dertig jaar lank ‘n studie van agthonderd pasiënte gedoen – en die resultate is veelseggend. Die pessimiste in die groep se risiko om ‘n vroeë dood te sterf, was 19 persent hoër as die optimiste s’n.

In Learned Optimism: How to Change Your Mind and Your Life, het dr Martin Seligman van die Universiteit van Pennsylvania tot die gevolgtrekking gekom dat optimisme en pessimisme jou gesondheid amper soveel soos fisiese faktore, beïnvloed. Het jy al ooit gesê: ‘Ek is tot die dood toe moeg hiervoor’? Doen dan iets daaraan – en vinnig ook! As jy te lank aan daardie gedagte vashou, mag dit dalk waar word.

Een van die grootste bevindinge van die moderne wetenskap is dat die woorde wat ons spreek nie net ander mense beïnvloed nie, maar onsself ook beïnvloed. Dit affekteer ons inderwaarheid soms meer! Woorde is kragtig. Jy glo en internaliseer dit wat jy herhaaldelik sê. Dit beteken dat jy die Godgegewe vermoë het om jou persepsie van jou eie vaardighede te kan verander.

Kom ons wees duidelik oor wat dit beteken en wat dit nie beteken nie. Dit beteken nie dat jy die kitaar soos Eric Clapton kan speel of soos Van Gogh kan verf, net omdat jy dit besluit het en dit wil doen nie. Dit beteken egter dat jy alles kan doen wat God in sy Woord gesê het jy kan doen. Hy sal jou in staat stel om dit waarvoor Hy jou geroep het, te doen. Dit sal gebeur wanneer jy dit wat uit jou mond kom, in lyn met dit wat in sy Woord geskryf staan, bring.

Sielskos: Rig 16:23-31; 2 Kor 12:7-10