Praat op ‘n positiewe manier (1)

2021-09-02
Filippense 4:13 NLV

Wanneer jy nie ‘n keuse het of jou omstandighede kan beheer nie, kan jy steeds besluit hoe jy daarop gaan reageer. Paulus was in die tronk toe hy geskryf het: ‘Wees altyd bly omdat julle Christene is…’ (vers 4 NLV). Daar is mense wat ‘n voortdurende pessimistiese lewensuitkyk het en meeste van die tyd op ‘n negatiewe manier praat. Dis ernstige sake! ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Dit beteken dat jy jouself dood kan praat of lewendig kan praat. Dis ‘n Skriftuurlike waarheid!

Die probleem is egter dat ons nie altyd agterkom wanneer ons met negatiewe self-praatjies besig is nie, omdat dit ‘n gewoonte word. Ons ontwikkel onbewustelik ‘n verkeerde siening van onsself wanneer ons aanhoudend ding soos: ‘Ek is so ‘n “loser”,’ of ‘Dit is te moeilik, ek gaan nie eers probeer nie,’ dink en sê. Ons is tevrede met verloor, wanneer ons met ‘n paar klein houdingsveranderinge die deur na wonderbaarlike moontlikhede kan oopmaak.

As verloste kind van God, is daar binne-in jou die krag om beter te dink, beter te praat en beter te doen. ‘Staan dit in die Bybel?’ vra jy. Ja, Paulus sê: ‘…Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra’ (Efesiërs 3:20 NLV). Dis tyd om ‘n lyn in die sand te trek en te verklaar: ‘Dit wat God van my sê, sal ek ook sê!’ Hier is ‘n wonderlike vers om mee te begin: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.’

Sielskos: Eseg 20-21; Luk 19:28-40; Ps 111; Spr 19:18-20