Wees die groter persoon
2021-09-01Handelinge 15:37-39 NLV
Paulus en Barnabas het saam gereis, mekaar bemoedig, saam vervolging verduur en baie mense vir Christus gewen. Selfs die beste verhoudings kan egter skeefloop en hulle was geen uitsondering nie. ‘Daar het toe kwade gevoelens ontstaan, en hulle het elkeen sy eie koers gegaan…’ Paulus en Barnabas het nooit bedoel om mekaar seer te maak nie. Hulle was altwee goeie mense en God se koninkryk was hulle hoofprioriteit. God het Paulus gekies om die Evangelie vir die heidene te bring en die Bybel noem Barnabas: ‘…’n goeie man, vol van die Heilige Gees en van geloof…’ (Handelinge 11:24 NLV). Altwee het oor die grootste kwessie saamgestem: naamlik om weer kerke te besoek waar hulle vroeër gepreek het. Hulle het net verskil oor hoe om te werk te gaan. Barnabas wou vir Johannes saamvat. Paulus wou nie; hy wou vir Silas saamvat.
Dit gebeur dikwels dat ons saamstem oor dit wat gedoen moet word, maar verskil oor hoe ons dit moet bereik. Natasha Robinson sê dat dit belangrik is om: a) Te herken wanneer God ‘n verhouding tot ‘n einde bring en nie probeer om ‘seisoenale’ mense in lewenslange vriendskappe te verander nie. Omdat jy hulle egter lief het en aan hulle geheg raak is dit moeilik om hulle te laat gaan, selfs wanneer dit daarvoor tyd is. b) Dit ‘n skoon breuk te maak wanneer julle paaie skei en nie toe te laat dat woede jou laat sondig nie. Dis maklik om bitter te raak en jou kant van die storie te wil vertel en sodoende verdeeldheid te veroorsaak. ‘Ons moet altyd die waarheid praat en altyd lief wees vir mekaar…’ (Efesiërs 4:15 ABA).
Weier om die ander persoon sleg te sê en God sal jou eer. God weet as hulle sleg van jou praat en Hy sal dit hanteer.
Sielskos: Eseg 16:53-19:14; Luk 19:11-27; Ps 103:13-22; Spr 19:17