Het jou geliefde vandag ‘n wonderwerk nodig?

2021-08-15
Markus 2:3 NLV

‘…Jesus was besig om die Goeie Nuus aan hulle te vertel. Daar daag toe vier mans by Hom op wat ‘n verlamde persoon op ‘n mat dra. As gevolg van die baie mense kon hulle hom nie tot by Jesus bring nie. Daarom het hulle ‘n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man… ‘Ek beveel jou, staan op, vat jou mat en gaan gesond na jou huis toe!’ (verse 2-5, 11 NLV).

As een van jou geliefdes vandag ‘n wonderwerk nodig het: 1) Gebruik jou geloof. Selfs as jy vir iemand bid wat min of geen geloof van hul eie het nie, sal God jou geloof namens hulle eer.

2) Weier om tou op te gooi. Doen wat hierdie vier vriende gedoen het. Die skare was ‘n probleem – dus het hulle rondom hulle gegaan. Die dak was ‘n probleem – dus het hulle daardeur gebreek. Hulle het geweier om tou op te gooi of moedeloos te word. Dokters kan mense behandel, maar slegs God kan hulle van binne en buite genees; bring dus jou geliefde in gebed na Hom toe.

3) Soek geloofsvennote. Dit het vier mense geneem om hierdie man by Jesus uit te kry, moet dit dus nie alleen doen nie. Kry iemand wat saam met jou in gebed sal saamstem. Jesus het gesê: ‘Boonop verseker Ek julle: As twee van julle hier op aarde sou saamstem oor enigiets wat julle van God behoort te vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen’ (Matteus 18:19 NLV). Hou dus aan om te bid en God vir ‘n wonderwerk te vertrou!

Sielskos: Eseg 47:1-12; Op 21:22-22:5